Eenheid as matriks van die spiritualiteit van die Evangelie volgens Johannes
Van der Merwe, D.G.
In hierdie artikel word die eenheidsbegrip, wat die matriks van die Johanneïese spiritualiteit vorm, ondersoek. Vir die skrywer van hierdie Evangelie is die eenheid tussen Jesus en sy dissipels gegrond op die eenheid tussen Jesus en die Vader. Met ander woorde, die eenheid tussen Jesus en die Vader dien as voorbeeld vir die eenheid wat tussen Jesus en sy dissipels tot stand moet kom. Dit noodsaak dus ʼn ondersoek na die aard van hierdie eenheid. Volgens Joh. 15:1–8 word die wese van hierdie eenheid gedefinieer aan die hand van die metafoor van die wingerdstok, en bestaan daarin om “in mekaar te bly”, “mekaar lief te hê”, en “gehoorsaam te wees aan die Een wat groter is”, wat ʼn hoogtepunt bereik in “die verheerliking van die Vader”. Vir die skrywer moet sodanige eenheid verwesenlik word in die belewenis van die eenheid tussen die dissipels. In Joh. 13 verduidelik Jesus hierdie eenheid en verstrek Hy ʼn voorbeeld daarvan wanneer Hy in ʼn handeling van liefde en diens die voete van sy dissipels was. Hy self bepaal die grense hiervan met die gereelde gebruik van die vergelykende partikel καθώς (“volgens”). Hy het aan hulle ʼn ὑπόδειγμα (“voorbeeld”) van onderlinge diens voorgehou. Wanneer die dissipels Jesus se gebod om mekaar lief te hê, gehoorsaam, en grense probeer oorsteek om nuwe vriendskappe te smee en die afwykende strukture van die samelewing te omvorm, sal nuwe belewenisse van “eenheid” tot stand kom.
↧