Die wenslikheid van Afrikaans as vaktaal vir regstudente
Lombard, Ellen; Carney, Terrence R
Sedert die demokratiese verkiesing in 1994 en die bevordering van nege addisionele
inheemse tale tot die status van ampstaal in die Handves van Regte soos vervat in
die interim Grondwet1 en die latere 1996-Grondwet,2 naas Afrikaans en Engels, het
Afrikaans as voertaal status begin verloor met die gevolg dat Engels as die lingua
franca van Suid-Afrika uittroon. Wat sake selfs gunstiger vir Engels ten koste van die
ander ampstale maak, is die feit dat die 1996-Grondwet nie so voorskriftelik soos die
1983-Grondwet3 met betrekking tot die amptelike gebruik van die tale van Suid-
Afrika is nie. Derhalwe word die ampstale nie voldoende beskerm in hul funksie as
regstaal nie en word Engels telkens verkies. Daar is uiteraard 'n groter aantal redes
waarom Engels binne die regspraktyk veld wen. Die uiteinde van die saak is dat
Regsafrikaans stelselmatig (maar aansienlik vinniger as wat meeste mense
vermoed) afstuur op taal(self)moord. In die lig van Regsafrikaans se ongunstige
posisie moet die vraag gestel word of dit nog sinvol is om 'n vak soos Regsafrikaans
aan 'n tersiêre instansie te onderrig? Is dit nog hoegenaamd wenslik om Afrikaans
aan regstudente te doseer? Waarom moet die behoud en voortsetting van
Regsafrikaans as vak oorweeg word? In hierdie bydrae word daar van die standpunt uitgegaan dat 'n geletterdheidskursus in Afrikaans steeds regstudente (en -praktisyns) van waarde kan wees. Die outeurs betoog die wenslikheid (en selfs die noodsaaklikheid) van Regsafrikaans deur op die volgende aspekte te fokus: Die belangrikheid van taal in die regswêreld 'n Kort oorsig van die geskiedenis van Regsafrikaans Anglisering binne die regspraktyk Engels as enigste notuleringstaal Die wenslikheid van Regsafrikaans
↧